Flitsfiksie: Middernag
Vier syfers gloei rooi en sweef bo haar bedkassie. 23:58. Dit voel vir haar asof haar hele lyf nes die syfers gloei van die hitte.
Dit kan nie so aangaan nie, dink Janneke. Sy staan met moeite op en sit op die rant van haar bed en wag vir die duiseligheid om te verdwyn. Sy kom op haar voete en pluk-pluk aan haar ou T-hemp sodat daar darem 'n bietjie lug aan haar vel kan raak.
Sy weet nie waar sy gaan nie. Al wat sy weet is dat enige plek koeler as haar slaapkamer moet wees. Net voordat sy aan haar slaapkamerdeur kan raak, hoor sy 'n kort kapgeluid van agter haar.
Haar hart stoot in haar keel op soos sy omdraai en kyk na die groot venster net bo haar bed. Nog 'n kapgeluid klink deur die kamer en nou is Janneke seker dat dit van die venster af kom. Dalk...
Sy kniel op haar bed en trek die donkerblou gordyne weg van die venster af. Die venster is op 'n skrefie oop en daar is 'n effense briesie wat oor haar gloeiende wange streel. Daar kom nog 'n kapgeluid en Janneke glimlag. Sy weet nou dat iemand klippies teen haar venster gooi. Sy gooi die venster oop en leun vooroor totdat haar maag teen die vensterbank rus.
Die slaapkamervenster kyk uit op die voortuin. Net buite die voorhekkie staan twee figure. Janneke waai entoesiasties vir haar vriende. Dit is nie die eerste keer wat hulle haar so in die middel van die nag kom haal nie en vanaand is 'n avontuur presies wat sy nodig het.
Sy verdwyn terug in haar kamer in en trek blitsvinnig aan. Haar hart klop-klop in haar borskas en die hitte pla haar skielik nie meer nie.
Terwyl sy haar kamerdeur saggies agter haar toemaak, kyk sy terug na die rooi syfers net bo haar bedkassie en glimlag. 0:00. Aspoesterjie het uitgemis, dink sy. Die beste dinge gebeur na middernag.